DIE INSPIRASIE VAN GEESTELIKE INISIATIEF
“Staan op uit die dode.”
Efesiërs 5:14
Nie alle inisiatief is geïnspireer nie. ’n Mens kan vir u sê — "Ruk u reg, gryp u teësin aan die keel, gooi dit oorboord, en stap uit die ding binne!" Dit is gewone menslike inisiatief. Maar wanneer die Gees van God inkom en sê, in werklikheid, "Ruk u reg," vind ons dat die inisiatief geïnspireer is.
Ons almal het ’n menigte visioene en ideale wanneer ons jonk is, maar vroeër of later vind ons dat ons geen krag het om hulle werklik te maak nie. Ons kan nie die dinge doen waarna ons verlang nie, en ons is geneig om ons by die visioene en ideale as dood neer te lê, en God moet kom en sê — "Staan op uit die dode." Wanneer die inspirasie van God wel kom, kom dit met so ’n wonderwerkende krag dat ons in staat is om uit die dode op te staan en die onmoontlike ding te doen. Die merkwaardige ding omtrent geestelike inisiatief is dat die lewe kom nadat ons ons "reggeruk het." God gee ons nie ’n oorwinningslewe nie; Hy gee ons lewe namate ons oorwin. Wanneer die inspirasie van God kom, en Hy sê — "Staan op uit die dode," moet ons opstaan; God lig ons nie op nie. Ons Here het vir die man met die verdorde hand gesê — "Steek jou hand uit," en sodra die man dit gedoen het, is sy hand genees, maar hy moes die inisiatief neem. As ons die oorwinning sal doen, sal ons vind dat ons deur God geïnspireer is omdat Hy onmiddellik lewe gee.