DIE DISSIPLINE VAN AG GEE
“Wat Ek vir julle in die duisternis sê, spreek dit in die lig: en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke.”
Matteus 10:27
Soms neem God ons deur die dissipline van duisternis om ons te leer om op Hom ag te gee. Sangvoëls word geleer om in die donker te sing, en ons word in die skadu van God se hand geplaas totdat ons leer om Hom te hoor. "Wat Ek vir julle in die duisternis sê" — let op waar God u in duisternis plaas, en wanneer u daar is hou u mond toe. Is u nou in u omstandighede, of in u lewe met God in die donker? Bly dan stil. As u u mond in die donker oopmaak, sal u in die verkeerde stemming praat: duisternis is die tyd om te luister. Moenie met ander mense daaroor praat nie; moenie boeke lees om die rede vir die duisternis uit te vind nie, maar luister en gee ag. As u met ander mense praat, kan u nie hoor wat God sê nie. Wanneer u in die donker is, luister, en God sal u ’n baie kosbare boodskap vir iemand anders gee wanneer u in die lig kom.
Ná elke tyd van duisternis kom daar ’n mengsel van vreugde en vernedering (as daar net vreugde is, bevraagteken ek of ons God hoegenaamd gehoor het), vreugde daarin om God te hoor spreek, maar hoofsaaklik vernedering — Hoe lank het dit my geneem om dit te hoor! Hoe stadig was ek om dit te verstaan! En tog het God dit al hierdie dae en weke gesê. Nou gee Hy u die gawe van vernedering wat die sagtheid van hart bring wat nou altyd na God sal luister.