Daaglikse oordenking

DIE TOEWYDING VAN DIE HOOR

Spreek; want U dienaar hoor.

1 Samuel 3:10

Omdat ek doelbewus na een ding van God geluister het, volg dit nie dat ek na alles sal luister wat Hy sê nie. Die wyse waarop ek vir God toon dat ek Hom nóg liefhet nóg respekteer is deur die afgestomptheid van my hart en denke teenoor wat Hy sê. As ek my vriend liefhet, bespeur ek intuïtief wat hy wil hê, en Jesus sê, "Julle is My vriende." Was ek hierdie week aan een of ander gebod van my Here ongehoorsaam? As ek besef het dat dit ’n gebod van Jesus was, sou ek dit nie bewustelik ongehoorsaam het nie; maar die meeste van ons toon sulke minagting vir God dat ons nie eens hoor wat Hy sê nie, Hy kon net sowel nooit gespreek het nie.

Die bestemming van my geestelike lewe is so ’n vereenselwiging met Jesus Christus dat ek God altyd hoor, en ek weet dat God my altyd hoor (Johannes 11:41). As ek met Jesus Christus verenig is, hoor ek God, deur die toewyding van die hoor die hele tyd. ’n Lelie, of ’n boom, of ’n dienaar van God, kan God se boodskap aan my oordra. Wat my verhinder om te hoor is dat ander dinge my in beslag neem. Dit is nie dat ek God nie wil hoor nie, maar ek is nie op die regte plek toegewyd nie. Ek is toegewyd aan dinge, aan diens, aan oortuigings, en God kan sê wat Hy wil maar ek hoor Hom nie. Die kinderhouding is altyd, "Spreek, Here, want U dienaar hoor." As ek nie hierdie toewyding van die hoor aangekweek het nie, kan ek God se stem net op bepaalde tye hoor; op ander tye neem dinge my in beslag — dinge wat ek sê ek moet doen, en ek word doof vir Hom, ek leef nie die lewe van ’n kind nie. Het ek vandag God se stem gehoor?

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in