Daaglikse oordenking

MOET EK LUISTER?

En hulle het vir Moses gesê, Spreek u met ons en ons sal hoor: maar laat God nie met ons spreek nie, sodat ons nie sterf nie.

Eksodus 20:19

Ons is nie bewustelik aan God ongehoorsaam nie, ons gee eenvoudig nie op Hom ag nie. God het ons Sy gebooie gegee; daar is hulle, maar ons skenk geen aandag aan hulle nie, nie weens moedswillige ongehoorsaamheid nie maar omdat ons Hom nie liefhet en respekteer nie. "As julle My liefhet, sal julle My gebooie bewaar." Wanneer ons eenmaal besef dat ons God die hele tyd "nie gerespekteer het nie", word ons met skaamte en vernedering bedek omdat ons nie op Hom ag gegee het nie.

"Spreek u met ons . . . maar laat God nie met ons spreek nie." Ons toon hoe min ons God liefhet deur te verkies om slegs na Sy dienaars te luister. Ons luister graag na persoonlike getuienisse, maar ons begeer nie dat God Homself tot ons spreek nie. Waarom is ons so verskrik dat God tot ons sou spreek? Omdat ons weet dat as God wel spreek, die ding óf gedoen moet word óf ons vir God moet sê dat ons Hom nie sal gehoorsaam nie. As dit slegs die dienaar se stem is wat ons hoor, voel ons dat dit nie gebiedend is nie, ons kan sê, "Wel, dit is eenvoudig u eie idee, hoewel ek nie ontken dat dit waarskynlik God se waarheid is nie."

Plaas ek God in die vernederende posisie dat Hy my as ’n kind van Hom behandel het terwyl ek Hom die hele tyd geïgnoreer het? Wanneer ek Hom wel hoor, kom die vernedering wat ek Hom aangedoen het op my terug — "Here, waarom was ek so afgestomp en so koppig?" Dit is altyd die gevolg wanneer ons God eenmaal wel hoor. Die werklike vreugde daarvan om Hom te hoor word getemper met skaamte dat dit so lank geneem het om Hom te hoor.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in