Daaglikse oordenking

ONMIDDELLIKE EN AANDRINGENDE HEILIGMAKING

En mag die God van vrede Self julle volkome heilig.

1 Tessalonisense 5:23-24

Wanneer ons bid om geheilig te word, is ons bereid om die standaard van hierdie verse onder oë te sien? Ons neem die term heiligmaking heeltemal te ligtelik op. Is ons bereid vir wat heiligmaking sal kos? Dit sal ’n intense vernouing van al ons belangstellings op aarde kos, en ’n ontsaglike verbreding van al ons belangstellings in God. Heiligmaking beteken intense konsentrasie op God se standpunt. Dit beteken dat elke vermoë van liggaam, siel en gees vasgeketting en slegs vir God se doel gehou word. Is ons bereid dat God in ons alles doen waarvoor Hy ons afgesonder het? En is ons dan nadat Sy werk in ons gedoen is, bereid om onsself vir God af te sonder net soos Jesus gedoen het? "Om hulle ontwil heilig Ek Myself." Die rede waarom sommige van ons nie die ervaring van heiligmaking binnegegaan het nie is dat ons nie die betekenis van heiligmaking vanuit God se standpunt besef het nie. Heiligmaking beteken om een met Jesus gemaak te word sodat die aard wat Hom regeer het ons sal regeer. Is ons bereid vir wat dit sal kos? Dit sal alles kos wat nie van God in ons is nie.

Is ons bereid om in die swaai van hierdie gebed van die apostel Paulus opgeneem te word? Is ons bereid om te sê — "Here, maak my so heilig as wat U ’n sondaar kan maak wat deur genade gered is"? Jesus het gebid dat ons een met Hom mag wees soos Hy een met die Vader is. Die een en enigste kenmerk van die Heilige Gees in ’n mens is ’n sterk familiegelykenis met Jesus Christus, en vryheid van alles wat nie soos Hy is nie. Is ons bereid om onsself af te sonder vir die Heilige Gees se bedieninge in ons?

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in