DIE DISSIPLINE VAN NEERSLAGTIGHEID
“Maar ons het vertrou . . . en buiten dit alles, is dit vandag die derde dag . . .”
Lukas 24:21
Elke feit wat die dissipels gestel het was reg; maar die gevolgtrekkings wat hulle uit daardie feite gemaak het was verkeerd. Enigiets wat geestelik na neerslagtigheid sweem is altyd verkeerd. As depressie en onderdrukking my besoek, is ek te blameer; God is nie, en ook niemand anders nie. Neerslagtigheid spruit uit een van twee bronne — ek het óf ’n begeerlikheid bevredig óf ek het nie. Begeerlikheid beteken — Ek moet dit dadelik hê. Geestelike begeerlikheid laat my ’n antwoord van God eis, in plaas daarvan om God te soek wat die antwoord gee. Wat het ek vertrou dat God sou doen? En vandag — die onmiddellike hede — is die derde dag, en Hy het dit nie gedoen nie; daarom verbeel ek my dat ek geregverdig is om neerslagtig te wees en God te blameer. Wanneer die aandrang op die punt is dat God gebed beantwoord, is ons van die spoor af. Die betekenis van gebed is dat ons God beetkry, nie die antwoord nie. Dit is onmoontlik om liggaamlik gesond en neerslagtig te wees. Neerslagtigheid is ’n teken van siekte, en dieselfde ding is geestelik waar. Geestelike neerslagtigheid is verkeerd, en ons is altyd daarvoor te blameer.
Ons soek visioene uit die hemel, aardbewings en donderslae van God se krag (die feit dat ons neerslagtig is bewys dat ons dit doen), en ons droom nooit dat God die hele tyd in die alledaagse dinge en mense rondom ons is nie. As ons die plig sal doen wat die naaste lê, sal ons Hom sien. Een van die verbasendste openbarings van God kom wanneer ons leer dat dit in die alledaagse dinge is dat die Godheid van Jesus Christus besef word.