IS U BEREID OM GEOFFER TE WORD?
“Ja, en al word ek uitgegiet oor die offer en diens van julle geloof, is ek bly en verheug ek my saam met julle almal.”
Filippense 2:17
Is u gewillig om vir die werk van die gelowiges geoffer te word — om u lewensbloed as ’n drankoffer oor die offer van ander se geloof uit te giet? Of sê u — "Ek gaan nog nie nou geoffer word nie, ek wil nie hê dat God my werk moet kies nie. Ek wil die toneel van my eie offer kies; ek wil die regte soort mense hê wat toekyk en sê, 'Mooi so.'
Dit is een ding om met waardige heldemoed op die eensame weg voort te gaan, maar heeltemal ’n ander ding as die lyn wat God vir u uitgestippel het beteken dat u ’n deurmat onder ander mense se voete moet wees. Veronderstel God wil u leer om te sê, "Ek weet hoe om verneder te word" — is u bereid om so geoffer te word? Is u bereid om nie eens ’n druppel in ’n emmer te wees nie — om so hopeloos onbeduidend te wees dat daar nooit weer aan u gedink word in verband met die lewe wat u gedien het nie? Is u gewillig om uself te bestee en bestee te word; nie om te soek dat u bedien word nie, maar om te bedien? Sommige heiliges kan nie geringe werk doen en heiliges bly nie omdat dit onder hulle waardigheid is.