DIE DWANG VAN DIE ROEP
“Wee my, as ek die Evangelie nie verkondig nie!”
1 Korintiërs 9:16
Waak daarteen om u ore vir die roep van God toe te stop. Elkeen wat gered is word geroep om van die feit te getuig; maar dit is nie die roep om te predik nie, dit is bloot ’n illustrasie in die prediking. Paulus verwys na die smarte wat in hom voortgebring word deur die dwang om die Evangelie te verkondig. Moet nooit wat Paulus in hierdie verband sê toepas op siele wat met God in aanraking kom vir redding nie. Niks is makliker as om gered te word nie want dit is God se soewereine werk — Kom na My toe en Ek sal u red. Ons Here stel nooit die voorwaardes van dissipelskap as die voorwaardes van redding nie. Ons is deur die Kruis van Jesus Christus tot redding veroordeel. Dissipelskap bring ’n keuse mee — "AS iemand . . ." Paulus se woorde het daarmee te doen dat ’n mens ’n dienaar van Jesus Christus gemaak word, en ons toestemming word nooit gevra oor wat ons sal doen of waarheen ons sal gaan nie. God maak ons gebreekte brood en uitgegiete wyn om Homself te behaag. Om "afgesonder tot die Evangelie" te wees beteken om die roep van God te hoor; en wanneer ’n mens daardie roep begin opvang, begin daar smart wat die naam waardig is. Elke ambisie word in die knop geknak, elke begeerte van die lewe geblus, elke uitsig volkome uitgedoof en uitgewis, behalwe een ding alleen — "afgesonder tot die Evangelie." Wee die siel wat sy voet in enige ander rigting probeer sit nadat daardie roep eenmaal tot hom gekom het. Hierdie Kollege bestaan vir u, en u — om te sien of God hier ’n man of vrou het wat omgee om Sy Evangelie te verkondig; om te sien of God u beetpak. En waak teen mededingers wanneer God u wel beetpak.