Daaglikse oordenking

SIEN U U ROEPING?

Afgesonder tot die Evangelie.

Romeine 1:1

Ons roeping is nie in die eerste plek om heilige manne en vroue te wees nie, maar om verkondigers van die Evangelie van God te wees. Die een ding wat van alle belang is is dat die Evangelie van God as die blywende Werklikheid besef moet word. Werklikheid is nie menslike goedheid, of heiligheid, of die hemel, of die hel nie; maar Verlossing; en die behoefte om dit raak te sien is die mees lewenskragtige behoefte van die Christelike arbeider vandag. As arbeiders moet ons gewoond raak aan die openbaring dat Verlossing die enigste Werklikheid is. Persoonlike heiligheid is ’n gevolg, nie ’n oorsaak nie, en as ons ons geloof in menslike goedheid, in die gevolg van Verlossing, stel sal ons ondergaan wanneer die toets kom.

Paulus het nie gesê dat hy homself afgesonder het nie, maar — "toe dit God behaag het wat my afgesonder het . . ." Paulus het nie ’n hipersensitiewe belangstelling in sy eie karakter gehad nie. Solank ons oë op ons eie persoonlike witheid is sal ons nooit naby die Werklikheid van Verlossing kom nie. Arbeiders breek omdat hulle begeerte na hulle eie witheid is, en nie na God nie. "Moenie my vra om namens die vuilheid van die menslike lewe soos dit is in aanraking met die ruwe Werklikheid van Verlossing te kom nie; wat ek wil hê is enigiets wat God vir my kan doen om my in my eie oë begeerliker te maak." Om op daardie wyse te praat is ’n teken dat die Werklikheid van die Evangelie van God my nog nie begin raak het nie; daar is geen roekelose teuellose oorgawe aan God nie. God kan my nie verlos terwyl my belangstelling bloot in my eie karakter is nie. Paulus is onbewus van homself, hy is roekeloos teuelloos oorgegee, deur God vir een doel afgesonder — om die Evangelie van God te verkondig (vgl. Rom. 9:3.)

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in