DIE DILEMMA VAN GEHOORSAAMHEID
“En Samuel was bevrees om die visioen aan Eli te toon.”
1 Samuel 3:15
God spreek nooit op opspraakwekkende wyses tot ons nie, maar op wyses wat maklik misverstaan kan word, en ons sê, "Ek wonder of dit God se stem is?" Jesaja het gesê dat die Here "met ’n sterk hand," dit wil sê, deur die druk van omstandighede tot hom gespreek het. Niks raak ons lewens of dit is God Homself wat spreek nie. Onderskei ons Sy hand of slegs ’n blote gebeurtenis?
Kom in die gewoonte om te sê, "Spreek, Here," en die lewe sal ’n roman word. Elke keer wanneer omstandighede druk, sê, "Spreek, Here"; maak tyd om te luister. Tugtiging is meer as ’n middel tot dissipline, dit is bedoel om my by die plek te kry waar ek sê, "Spreek, Here." Onthou die tyd toe God wel tot u gespreek het. Het u vergeet wat Hy gesê het? Was dit Lukas 11:13, of was dit 1 Tess. 5:23? Namate ons luister, word ons oor skerp, en, soos Jesus, sal ons God die hele tyd hoor.
Sal ek vir my "Eli" vertel wat God aan my getoon het? Dit is waar die dilemma van gehoorsaamheid inkom. Ons is ongehoorsaam aan God deur amateur-Voorsienighede te word — Ek moet beskerming verleen aan "Eli," die beste mense wat ons ken. God het nie vir Samuel gesê om vir Eli te vertel nie; hy moes dit vir homself besluit. God se roep tot u kan pyn bring vir u "Eli;" maar as u die lyding in ’n ander lewe probeer voorkom, sal dit ’n versperring tussen u siel en God blyk te wees. Dit is op u eie gevaar dat u die afkap van die regterhand of die uitpluk van die oog voorkom.
Moet nooit iemand anders se raad vra oor enigiets waaroor God u voor Hom laat besluit nie. As u raad vra, sal u byna altyd Satan se kant kies. "Onmiddellik het ek nie vlees en bloed geraadpleeg nie."