MAAR DIT IS SKAARS GELOOFLIK DAT ’N MENS JESUS SÓ KON VERVOLG!
“Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
Handelinge 26:14
Is ek ingestel op my eie weg vir God? Ons is nooit vry van hierdie strik totdat ons in die ervaring van die doop met die Heilige Gees en vuur gebring word nie. Koppigheid en eiewil sal Jesus Christus altyd deursteek. Dit mag niemand anders seermaak nie, maar dit verwond Sy Gees. Wanneer ons koppig en eiewillig en op ons eie ambisies ingestel is, maak ons Jesus seer. Elke keer dat ons op ons regte staan en daarop aandring dat dit is wat ons van plan is om te doen, vervolg ons Jesus. Wanneer ons op ons waardigheid staan kwel en bedroef ons Sy Gees stelselmatig; en wanneer die besef deurdring dat dit Jesus is vir Wie ons die hele tyd vervolg het, is dit die verpletterendste openbaring wat daar kan wees.
Is die Woord van God ontsaglik skerp vir my wanneer ek dit aan u oordra, of weerspreek my lewe die dinge wat ek bely dat ek leer? Ek mag heiligmaking leer en tog die gees van Satan vertoon, die gees wat Jesus Christus vervolg. Die Gees van Jesus is van net een ding bewus — ’n volmaakte eenheid met die Vader, en Hy sê, "Leer van My, want Ek is sagmoedig en gering van hart." Alles wat ek doen behoort gegrond te wees op ’n volmaakte eenheid met Hom, nie op ’n eiewillige vasbeslotenheid om godvrugtig te wees nie. Dit sal beteken dat ek maklik misbruik, maklik uitoorlê, maklik geïgnoreer kan word; maar as ek my ter wille van Hom daaraan onderwerp, voorkom ek dat Jesus Christus vervolg word.