BESKOU WEER EN WY
“As God die gras van die veld so beklee . . . sal Hy julle nie veel meer beklee nie?”
Matteus 6:30
’n Eenvoudige uitspraak van Jesus is altyd vir ons ’n raaisel as ons nie eenvoudig is nie. Hoe gaan ons eenvoudig wees met die eenvoud van Jesus?
Deur Sy Gees te ontvang, Hom te erken en op Hom te steun, Hom te gehoorsaam wanneer Hy die Woord van God bring, en die lewe sal verbasend eenvoudig word. "Beskou," sê Jesus, "hoeveel te meer julle Vader wat die gras van die veld beklee, julle sal beklee as julle jul verhouding met Hom reg hou." Elke keer dat ons in geestelike gemeenskap agteruitgegaan het was dit omdat ons vermetel beter as Jesus Christus geweet het. Ons het toegelaat dat die sorge van die wêreld inkom, en het die "veel meer" van ons hemelse Vader vergeet.
"Aanskou die voëls van die hemel" — hulle hoofdoel is om die lewensbeginsel wat in hulle is te gehoorsaam en God sien na hulle om. Jesus sê dat as u in ’n regte verhouding tot Hom staan en Sy Gees wat in u is gehoorsaam, God sorg sal dra vir u 'vere.'
"Beskou die lelies van die veld" — hulle groei waar hulle geplaas word. Baie van ons weier om te groei waar ons geplaas word, gevolglik skiet ons nêrens wortel nie. Jesus sê dat as ons die lewe gehoorsaam wat God ons gegee het, Hy na al die ander dinge sal omsien. Het Jesus Christus vir ons ’n leuen vertel? As ons sonder die ervaring is van die "veel meer," is dit omdat ons nie die lewe gehoorsaam wat God ons gegee het nie, ons word deur verwarrende oorwegings in beslag geneem. Hoeveel tyd het ons daaraan bestee om God met vrae te bekommer terwyl ons absoluut vry moes gewees het om op Sy werk te konsentreer? Wyding beteken die voortdurende afsondering van myself tot een bepaalde ding. Ons kan nie eens en vir altyd wy nie. Sonder ek myself voortdurend af om God elke dag van my lewe te beskou?