Daaglikse oordenking

OMGEVORM DEUR INSIG

Ons almal, terwyl ons met onbedekte aangesig, soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word na dieselfde beeld verander.

2 Korintiërs 3:18

Die uitstaande kenmerk van ’n Christen is hierdie ongesluierde openhartigheid voor God sodat die lewe ’n spieël vir ander lewens word. Deur met die Gees vervul te word word ons omgevorm, en deur aanskouing word ons spieëls. U weet altyd wanneer ’n mens die heerlikheid van die Here aanskou het, u voel in u innerlike gees dat hy die spieël van die Here se eie karakter is. Waak teen enigiets wat daardie spieël in u sal bevlek; dit is byna altyd ’n goeie ding, die goeie wat nie die beste is nie.

Die goue reël vir u lewe en myne is hierdie gekonsentreerde oophou van die lewe na God toe. Laat alles anders — werk, klere, kos, alles op aarde — oorboord gaan, behalwe daardie een ding. Die gejaagdheid van ander dinge neig altyd om hierdie konsentrasie op God te verduister. Ons moet onsself in die plek van aanskouing handhaaf, en die lewe deurgaans absoluut geestelik hou. Laat ander dinge kom en gaan soos hulle wil, laat ander mense kritiseer soos hulle wil, maar moet nooit toelaat dat enigiets die lewe verduister wat saam met Christus in God verborge is nie. Moet nooit uit die verhouding van bly in Hom gejaag word nie. Dit is die een ding wat geneig is om te wissel maar dit behoort nie. Die strengste dissipline van ’n Christen se lewe is om te leer hoe om "soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here te aanskou."

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in