Daaglikse oordenking

ONTHOU WAT GOD ONTHOU

Ek onthou . . . die vriendelikheid van jou jeug.

Jeremia 2:2

Is ek so spontaan vriendelik teenoor God as wat ek voorheen was, of verwag ek net dat God teenoor my vriendelik moet wees? Is ek vol van die klein dingetjies wat Sy hart oor my verbly, of kerm ek omdat dinge swaar met my gaan? Daar is geen vreugde in die siel wat vergeet het wat God waardeer nie. Dit is ’n groot ding om te dink dat Jesus Christus my nodig het — "Gee My iets om te drink." Hoeveel vriendelikheid het ek hierdie afgelope week aan Hom betoon? Was ek in my lewe vriendelik teenoor Sy reputasie?

God sê vir Sy volk — Julle het My nie nou lief nie, maar Ek onthou die tyd toe julle My liefgehad het — "Ek onthou . . . die liefde van jou verlowingstyd." Is ek so vol van die uitspattigheid van liefde vir Jesus Christus soos ek aan die begin was, toe ek uit my pad gegaan het om my toewyding aan Hom te bewys? Vind Hy dat ek die tyd onthou toe ek vir niks buiten Homself omgegee het nie? Is ek nou daar, of het ek wys geword oor hoe ek Hom liefhet? Het ek Hom so lief dat ek geen rekening hou met waarheen ek gaan nie? Of waak ek oor die respek wat my toekom; en weeg ek hoeveel diens ek behoort te gee?

As ek, terwyl ek onthou wat God van my onthou, vind dat Hy nie vir my is wat Hy voorheen was nie, laat dit skaamte en vernedering voortbring, want daardie skaamte sal die droefheid na God bring wat inkeer bewerk.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in