IS U VARS VIR ALLES?
“As ’n mens nie wedergebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Johannes 3:3
Soms is ons vars vir ’n biduur maar nie vars om stewels skoon te maak nie!
Om uit die Gees wedergebore te word is ’n onmiskenbare werk van God, so geheimenisvol soos die wind, so verrassend soos God Homself. Ons weet nie waar dit begin nie, dit lê verborge in die dieptes van ons persoonlike lewe. Om van bo wedergebore te word is ’n altyddurende, voortdurende en ewige begin; voortdurend ’n varsheid in denke en in praat en in lewe, die aanhoudende verrassing van die lewe van God. Mufheid is ’n aanduiding dat iets met God uit lit is — "Ek moet hierdie ding doen anders sal dit nooit gedoen word nie." Dit is die eerste teken van mufheid. Is ons hierdie minuut vars gebore of is ons muf, rondharkend in ons denke na iets om te doen? Varsheid kom nie uit gehoorsaamheid nie maar uit die Heilige Gees; gehoorsaamheid hou ons in die lig soos God in die lig is.
Bewaak u verhouding tot God jaloers. Jesus het gebid "dat hulle een mag wees, net soos Ons een is" — niks tussenin nie. Hou die hele lewe altyddurend oop vir Jesus Christus, moenie teenoor Hom voorgee nie. Trek u u lewe uit enige ander bron as God Homself? As u van enigiets buiten Hom afhanklik is, sal u nooit weet wanneer Hy weg is nie.
Om uit die Gees gebore te wees beteken veel meer as wat ons gewoonlik meen dat dit beteken. Dit gee ons ’n nuwe visioen en hou ons absoluut vars vir alles deur die altyddurende toevoer van die lewe van God.