Daaglikse oordenking

VISIOEN EN DUISTERNIS

n Verskrikking van groot duisternis het op hom geval.

Genesis 15:12

Wanneer God ’n visioen aan ’n heilige gee, plaas Hy hom, as ’t ware, in die skadu van Sy hand, en die heilige se plig is om stil te wees en te luister. Daar is ’n duisternis wat uit ’n oormaat lig kom, en dan is dit tyd om te luister. Genesis 16 is ’n illustrasie daarvan om na goeie raad te luister wanneer dit donker is in plaas daarvan om te wag dat God die lig stuur. Wanneer God ’n visioen gee en duisternis volg, wag. God sal u in ooreenstemming maak met die visioen wat Hy gegee het as u op Sy tyd wag. Moet nooit probeer om God te help om Sy Woord te vervul nie. Abraham het deur dertien jaar van stilte gegaan, maar in daardie jare is alle selfgenoegsaamheid vernietig; daar het geen moontlikheid oorgebly om op weë van gesonde verstand te steun nie. Daardie jare van stilte was ’n tyd van dissipline, nie van misnoeë nie. Moet nooit vreugde en vertroue oppomp nie, maar bly op God steun (vgl. Jesaja 50:10,11).

Het ek enige vertroue in die vlees? Of het ek verby alle vertroue in myself en in manne en vroue van God gekom; in boeke en gebede en ekstases; en is my vertroue nou in God Homself geplaas, nie in Sy seëninge nie? "Ek is God die Almagtige" — El-Shaddai, die Vader-Moeder-God. Die een ding waarvoor ons almal gedissiplineer word is om te weet dat God werklik is. Sodra God werklik word, word ander mense skaduwees. Niks wat ander heiliges doen of sê kan ooit die een wat op God gebou is verontrus nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in