DIT IS DIE HERE!
“Thomas het geantwoord en vir Hom gesê, My Here en my God.”
Johannes 20:28
"Gee My iets om te drink." Hoeveel van ons is daarop ingestel dat Jesus Christus ons dors les terwyl ons Hom behoort te bevredig? Ons behoort nou uit te stort, tot die uiterste grens te bestee, nie uit Hom te put om ons te bevredig nie. "Julle sal getuies vir My wees" — dit beteken ’n lewe van onbevlekte, kompromislose en onomkoopbare toewyding aan die Here Jesus, ’n bevrediging vir Hom waar Hy ons ook al plaas.
Waak teen enigiets wat met trou aan Jesus Christus meeding. Die grootste mededinger van toewyding aan Jesus is diens vir Hom. Dit is makliker om te dien as om tot op die droesem leeggedrink te word. Die een doel van die roep van God is die bevrediging van God, nie ’n roep om iets vir Hom te doen nie. Ons word nie gestuur om vir God te stry nie, maar om deur God in Sy strydvoerings gebruik te word. Is ons meer toegewyd aan diens as aan Jesus Christus?