WANDEL U IN WIT?
“Saam met Hom begrawe . . . sodat . . . ons net so ook in nuutheid van lewe sou wandel.”
Romeine 6:4
Niemand gaan die ervaring van volkome heiligmaking binne sonder om deur ’n "wit begrafnis" te gaan nie — die begrafnis van die ou lewe. As hierdie doodskrisis nooit plaasgevind het nie, is heiligmaking niks meer as ’n visioen nie. Daar moet wees ’n "wit begrafnis," — ’n dood wat net een opstanding het — ’n opstanding tot in die lewe van Jesus Christus. Niks kan so ’n lewe versteur nie, dit is een met God vir een doel, om ’n getuie van Hom te wees.
Het u werklik by u laaste dae gekom? U het dikwels in gevoel daarby gekom, maar het u werklik daarby gekom? U kan nie in opgewondenheid na u begrafnis gaan, of in opgewondenheid sterf nie. Dood beteken dat u ophou om te wees. Stem u met God ooreen dat u ophou om die strewevolle, ernstige soort Christen te wees wat u was? Ons loop om die rand van die begraafplaas en weier die hele tyd om na die dood te gaan. Dit is nie ’n strewe om na die dood te gaan nie, dit is sterf — "in Sy dood gedoop."
Was daar by u ’n "wit begrafnis," of speel u op gewyde wyse die dwaas met u siel? Is daar ’n plek in u lewe wat as die laaste dag gemerk is, ’n plek waarheen die herinnering teruggaan met ’n getugtigde en buitengewoon dankbare gedagtenis — "Ja, dit was toe, by daardie 'wit begrafnis,' dat ek ’n ooreenstemming met God aangegaan het."
"Dit is die wil van God, naamlik julle heiligmaking." Wanneer u besef wat die wil van God is, sal u so natuurlik moontlik die heiligmaking binnegaan. Is u gewillig om nou deur daardie "wit begrafnis" te gaan? Stem u met Hom ooreen dat dit u laaste dag op aarde is? Die oomblik van ooreenstemming hang van u af.