Daaglikse oordenking

WAS U OOIT ALLEEN MET GOD?

Toe Hy alleen was het die twaalf . . . Hom gevra . . .

Markus 4:10

Sy afsondering met ons.

Wanneer God ons alleen kry deur verdrukking, hartbreuk, of versoeking, deur teleurstelling, siekte, of deur verydelde geneentheid, deur ’n gebroke vriendskap, of deur ’n nuwe vriendskap — wanneer Hy ons absoluut alleen kry, en ons stomgeslaan is, en nie een vraag kan vra nie, dan begin Hy uitlê. Let op Jesus Christus se opleiding van die twaalf. Dit was die dissipels, nie die skare buite nie, wat verbysterd was. Hulle het Hom voortdurend vrae gevra, en Hy het voortdurend dinge aan hulle uitgelê; maar hulle het eers verstaan nadat hulle die Heilige Gees ontvang het (sien Johannes 14:26).

As u met God voortgaan, is die enigste ding wat vir u duidelik is, en die enigste ding wat God bedoel om duidelik te wees, die wyse waarop Hy met u eie siel handel. U broer se smarte en verbysterings is vir u ’n volstrekte verwarring. Ons verbeel ons dat ons verstaan waar die ander persoon is, totdat God ons ’n dosis van die plaag van ons eie harte gee. Daar is hele gebiede van hardnekkigheid en onkunde wat deur die Heilige Gees in elkeen van ons geopenbaar moet word, en dit kan slegs gedoen word wanneer Jesus ons alleen kry. Is ons nou alleen met Hom, of word ons in beslag geneem deur klein beuselagtige denkbeelde, beuselagtige kameraadskappe in God se diens, beuselagtige idees oor ons liggame? Jesus kan niks uitlê voordat ons deur al die lawaaierige vrae van die kop gekom het en alleen met Hom is nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in