WAS U OOIT ALLEEN MET GOD?
“Toe hulle alleen was, het Hy alles aan Sy dissipels uitgelê.”
Markus 4:34
Ons afsondering met Hom.
Jesus neem ons nie voortdurend alleen en lê dinge aan ons uit nie; Hy lê dinge aan ons uit namate ons dit kan verstaan. Ander lewens is gelykenisse. God is besig om ons ons eie siele te laat uitspel. Dit is stadige werk, so stadig dat dit God alle tyd en ewigheid neem om ’n man en ’n vrou volgens Sy eie doel te maak. Die enigste wyse waarop ons vir God bruikbaar kan wees is om Hom toe te laat om ons deur die kronkels en uithoeke van ons eie karakters te neem. Dit is verstommend hoe onkundig ons oor onsself is! Ons herken afguns nie wanneer ons dit sien nie, of luiheid, of trots. Jesus openbaar aan ons alles wat hierdie liggaam geherberg het voordat Sy genade begin werk het. Hoeveel van ons het geleer om met moed na binne te kyk?
Ons moet ontslae raak van die gedagte dat ons onsself verstaan, dit is die laaste eiewaan wat moet gaan. Die enigste Een wat ons verstaan is God. Die grootste vloek in die geestelike lewe is eiewaan. As ons ooit ’n glimp gekry het van hoe ons in God se oë is, sal ons nooit sê — "O, ek is so onwaardig," nie omdat ons sal weet dat ons dit is, verder as wat dit moontlik is om te stel. Solank ons nie heeltemal seker is dat ons onwaardig is nie, sal God ons al nouer insluit totdat Hy ons alleen kry. Waar daar ook maar enige element van trots of eiewaan is, kan Jesus niks uitlê nie. Hy sal ons deur die teleurstelling van verwonde verstandstrots neem, deur teleurstelling van die hart. Hy sal buitensporige geneentheid openbaar — dinge waaroor ons nooit gedink het dat Hy ons alleen sou moes kry nie. Ons luister na baie dinge in klasse, maar hulle is nog nie vir ons ’n uitleg nie. Hulle sal wees wanneer God ons daaroor alleen kry.