Daaglikse oordenking

WAT MY GEHOORSAAMHEID AAN GOD ANDER MENSE KOS

Hulle het een Simon gegryp . . . en op hom het hulle die kruis gelê.

Lukas 23:26

As ons God gehoorsaam gaan dit ander mense meer kos as wat dit ons kos, en dit is waar die angel inkom. As ons ons Here liefhet, kos gehoorsaamheid ons niks nie, dit is ’n vreugde, maar dit kos dié wat Hom nie liefhet nie baie. As ons God gehoorsaam sal dit beteken dat ander mense se planne versteur word, en hulle sal ons daarmee bespot — "Noem u dit Christelikheid?" Ons kan die lyding voorkom; maar as ons God gaan gehoorsaam, moet ons dit nie voorkom nie, ons moet die koste laat betaal word.

Ons menslike trots verskans homself op hierdie punt, en ons sê — Ek sal nooit enigiets van enigiemand aanvaar nie. Ons sal dit moet aanvaar, of God ongehoorsaam wees. Ons het geen reg om te verwag dat ons in enige ander verhouding sal wees as dié waarin ons Here Homself was nie (sien Lukas 8:2-3).

Stagnasie in die geestelike lewe kom wanneer ons sê dat ons die hele ding self sal dra. Ons kan nie. Ons is so betrokke by die universele doeleindes van God dat sodra ons God gehoorsaam, ander geraak word. Gaan ons lojaal bly in ons gehoorsaamheid aan God en deur die vernedering gaan om te weier om onafhanklik te wees, of gaan ons die ander lyn volg en sê — Ek sal ander mense nie lyding kos nie? Ons kan God ongehoorsaam wees as ons kies, en dit sal onmiddellike verligting vir die situasie bring, maar ons sal vir ons Here ’n smart wees. As ons God daarenteen gehoorsaam, sal Hy omsien na dié wat in die gevolge van ons gehoorsaamheid ingedruk is. Ons moet eenvoudig gehoorsaam en alle gevolge by Hom laat.

Waak teen die neiging om aan God voor te skryf wat u sal toelaat om te gebeur as u Hom gehoorsaam.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in