Daaglikse oordenking

DIE GEOPENDE SIG

Om hulle oë te open . . . dat hulle mag ontvang . . .

Handelinge 26:18

Hierdie vers is die grootste samevatting van die propaganda van ’n dissipel van Jesus Christus in die hele Nuwe Testament.

Die eerste soewereine werk van genade word saamgevat in die woord — "dat hulle kwytskelding van sondes mag ontvang." Wanneer ’n mens in persoonlike Christelike ervaring faal, is dit byna altyd omdat hy nog nooit iets ontvang het nie. Die enigste teken dat ’n mens gered is is dat hy iets van Jesus Christus ontvang het. Ons aandeel as arbeiders vir God is om mense se oë te open sodat hulle hulself van duisternis na lig kan keer; maar dit is nie redding nie, dit is bekering — die inspanning van ’n wakker geskudde mens. Ek dink nie dit is te omvattend gestel om te sê dat die meerderheid naamchristene van hierdie orde is nie; hulle oë is geopen, maar hulle het niks ontvang nie. Bekering is nie wedergeboorte nie. Dit is een van die verwaarloosde faktore in ons prediking vandag. Wanneer ’n mens wedergebore is, weet hy dat dit is omdat hy iets as ’n gawe van die Almagtige God ontvang het en nie vanweë sy eie besluit nie. Mense registreer hulle geloftes, onderteken hulle verbintenisse, en besluit vas om deur te gaan, maar niks hiervan is redding nie. Redding beteken dat ons by die plek gebring word waar ons in staat is om op gesag van Jesus Christus iets van God te ontvang, nl., kwytskelding van sondes.

Dan volg die tweede magtige werk van genade — "’n erfenis onder dié wat geheilig is." In heiligmaking gee die wedergebore siel sy reg op homself doelbewus aan Jesus Christus, prys en vereenselwig hy hom geheel en al met God se belang in ander mense.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in