Daaglikse oordenking

VOORBIDDINGSINTROSPEKSIE

En mag die God u hele gees en siel en liggaam onberispelik bewaar.

1 Tessalonisense 5:23

"U hele gees . . ." Die groot mistieke werk van die Heilige Gees vind plaas in die skemerstreke van ons persoonlikheid waarby ons nie kan uitkom nie. Lees die 139ste Psalm; die Psalmis impliseer — "U is die God van die vroeë oggende, die God van die laat nagte, die God van die bergpieke, en die God van die see; maar, my God, my siel het verdere horisonne as die vroeë oggende, dieper duisternis as die nagte van die aarde, hoër pieke as enige bergpieke, groter dieptes as enige see in die natuur — U wat die God van al hierdie dinge is, wees my God. Ek kan nie tot die hoogtes of die dieptes reik nie; daar is beweegredes wat ek nie kan naspoor nie, drome waarby ek nie kan uitkom nie — my God, deursoek my."

Glo ons dat God die verbeelding met ’n garnisoen kan beset ver buite waar ons kan kom? "Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde" — as dit slegs in bewuste ervaring so beteken, mag God Hom oor ons ontferm. Die mens wat deur sonde afgestomp is sal sê dat hy nie van sonde bewus is nie. Reiniging van sonde strek tot in die uiterste hoogtes en dieptes van ons gees as ons in die lig bly soos God in die lig is, en die einste Gees wat die lewe van Jesus Christus gevoed het sal die lewe van ons geeste voed. Dit is slegs wanneer God ons met die ontsaglike heiligheid van die Heilige Gees met ’n garnisoen beset, dat gees, siel en liggaam in onbevlekte integriteit bewaar word, sonder dat hulle in God se oë teregwysing verdien, totdat Jesus kom.

Ons laat ons denke nie soos dit behoort by hierdie groot massiewe waarhede van God vertoef nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in