LEWE MY OFFER?
“En Abraham het ’n altaar gebou . . en sy seun Isak gebind.”
Genesis 22:9
Hierdie gebeurtenis is ’n beeld van die vergissing wat ons maak wanneer ons dink dat die finale ding wat God van ons wil hê die offer van die dood is. Wat God wil hê is die offer deur die dood wat ons in staat stel om te doen wat Jesus gedoen het, nl., om ons lewens te offer. Nie — Ek is gewillig om saam met U na die dood te gaan nie, maar — Ek is gewillig om met U dood vereenselwig te word sodat ek my lewe aan God kan offer. Ons skyn te dink dat God wil hê ons moet dinge prysgee! God het Abraham van hierdie vergissing gereinig, en dieselfde dissipline gaan in ons lewens voort. God sê nêrens vir ons om dinge prys te gee ter wille daarvan om hulle prys te gee nie. Hy sê vir ons om hulle prys te gee ter wille van die enigste ding wat die moeite werd is om te hê — nl., die lewe saam met Homself. Dit is ’n saak daarvan om die bande los te maak wat die lewe verhinder, en sodra daardie bande deur vereenselwiging met die dood van Jesus losgemaak word, gaan ons ’n verhouding met God binne waardeur ons ons lewens aan Hom kan offer.
Dit het vir God geen waarde dat u u lewe vir die dood aan Hom gee nie. Hy wil u hê as ’n "lewende offer," wat Hom al u vermoëns laat hê wat deur Jesus gered en geheilig is. Dit is die ding wat vir God aanneemlik is.