INTIEM MET JESUS
“Is Ek so lank by julle, en het jy My nog nie geken nie?”
Johannes 14:9
Hierdie woorde word nie as ’n teregwysing uitgespreek nie, selfs nie met verbasing nie; Jesus lei Filippus verder. Die laaste Een met Wie ons intiem raak is Jesus. Voor Pinkster het die dissipels Jesus geken as die Een wat aan hulle krag gegee het om demone te oorwin en ’n herlewing teweeg te bring (sien Lukas 10:18-20). Dit was ’n wonderlike intimiteit, maar daar sou ’n veel nouer intimiteit kom — "Ek het julle vriende genoem." Vriendskap is skaars op aarde. Dit beteken identiteit in denke en hart en gees. Die hele dissipline van die lewe is om ons in staat te stel om hierdie nouste verhouding met Jesus Christus binne te gaan. Ons ontvang Sy seëninge en ken Sy Woord, maar ken ons Hom?
Jesus het gesê, "Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan" — in daardie verhouding, sodat Hy hulle verder kon lei. Dit is vir Jesus ’n vreugde wanneer ’n dissipel tyd neem om intiemer saam met Hom te stap. Vrugdra word altyd genoem as die openbaring van ’n intieme vereniging met Jesus Christus (Johannes 15:1-4).
Wanneer ons eenmaal intiem met Jesus raak is ons nooit eensaam nie, het ons nooit simpatie nodig nie, kan ons voortdurend uitstort sonder om pateties te wees. Die heilige wat intiem met Jesus is sal nooit indrukke van homself nalaat nie, maar slegs die indruk dat Jesus ’n ongehinderde weg het, omdat die laaste afgrond van sy natuur deur Jesus bevredig is. Die enigste indruk wat deur so ’n lewe gelaat word is dié van die sterk rustige geestesgesondheid wat Ons Here gee aan dié wat intiem met Hom is.