AANBIDDING
“En hy het sy tent opgeslaan met Bet-el aan die weste en Ai aan die ooste: en daar het hy ’n altaar gebou.”
Genesis 12:8
Aanbidding is om aan God die beste te gee wat Hy aan u gegee het. Wees versigtig wat u doen met die beste wat u het. Wanneer u ’n seën van God ontvang, gee dit as ’n liefdesgawe aan Hom terug. Neem tyd om voor God te bepeins en bied die seën in ’n doelbewuste daad van aanbidding aan Hom terug. As u iets vir uself opgaar, sal dit in geestelike droogvrot verander, soos die manna toe dit opgegaar is. God sal u nooit toelaat om ’n geestelike ding vir uself te hou nie, dit moet aan Hom teruggegee word sodat Hy dit ’n seën vir ander kan maak.
Bet-el is die simbool van gemeenskap met God; Ai is die simbool van die wêreld. Abraham het sy tent tussen die twee opgeslaan. Die maatstaf van die waarde van ons openbare bedrywigheid vir God is die private diepe gemeenskap wat ons met Hom het. Gejaagdheid is elke keer verkeerd, daar is altyd volop tyd om God te aanbid. Stil dae met God kan ’n strik wees. Ons moet ons tente opslaan waar ons altyd stil tye met God sal hê, hoe luidrugtig ons tye met die wêreld ook al mag wees. Daar is nie drie stadiums in die geestelike lewe nie — aanbidding, wag en werk. Party van ons beweeg met spronge soos geestelike paddas, ons spring van aanbidding na wag, en van wag na werk. God se gedagte is dat die drie saam moet gaan. Hulle was altyd saam in die lewe van Ons Here. Hy het Hom nie gehaas nie en nie gerus nie. Dit is ’n dissipline, ons kan nie meteens daarin kom nie.