Daaglikse oordenking

SAL U UITGAAN SONDER OM TE WEET?

Hy het uitgegaan, sonder om te weet waarheen hy gegaan het.

Hebreërs 11:8

Het u op hierdie wyse "uit" gewees? Indien wel, is geen logiese verklaring moontlik wanneer iemand u vra wat u doen nie. Een van die moeilikhede in Christelike werk is hierdie vraag — "Wat verwag u om te doen?" U weet nie wat u gaan doen nie; die enigste ding wat u weet is dat God weet wat Hy doen. Hersien voortdurend u houding teenoor God en kyk of dit ’n uitgaan uit alles is, terwyl u geheel en al op God vertrou. Dit is hierdie houding wat u in voortdurende verwondering hou — u weet nie wat God volgende gaan doen nie. Elke ontwaking in die oggend is ’n "uitgaan," terwyl u in vertroue op God bou. "Wees nie besorg oor u lewe nie, . . . en ook nie oor u liggaam nie" — wees onbesorg oor die dinge waaroor u besorg was voordat u "uitgegaan het."

Het u God gevra wat Hy gaan doen? Hy sal u nooit vertel nie. God vertel u nie wat Hy gaan doen nie; Hy openbaar aan u Wie Hy is. Glo u in ’n God wat wonderwerke doen, en sal u in oorgawe aan Hom uitgaan totdat u nie ’n atoom verras is oor enigiets wat Hy doen nie?

Veronderstel God is die God wat u weet Hy is wanneer u die naaste aan Hom is — hoe vermetel is bekommernis nie! Laat die houding van die lewe ’n voortdurende "uitgaan" in afhanklikheid van God wees, en u lewe sal ’n onuitspreeklike bekoring hê wat vir Jesus ’n bevrediging is. U moet leer om uit oortuigings, uit geloofsbelydenisse, uit ervarings uit te gaan, totdat daar wat u geloof betref, niks tussen uself en God is nie

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in