DIE TOETS VAN LOJALITEIT
“En ons weet dat alle dinge ten goede meewerk vir dié wat God liefhet.”
Romeine 8:28
Dit is alleen die lojale siel wat glo dat God omstandighede konstrueer. Ons veroorloof ons soveel met ons omstandighede, ons glo nie dat God hulle konstrueer nie, hoewel ons sê ons glo; ons behandel die dinge wat gebeur asof hulle deur mense gekonstrueer is. Om in elke omstandigheid getrou te wees beteken dat ons slegs een lojaliteit het, en dit is aan Ons Here. Skielik breek God ’n bepaalde stel omstandighede oop, en die besef kom dat ons aan Hom dislojaal was deur nie te erken dat Hy hulle georden het nie; ons het nooit gesien wat Hy in die oog gehad het nie, en daardie bepaalde ding sal al die dae van ons lewe nooit herhaal word nie. Die toets van lojaliteit kom altyd juis daar. Indien ons leer om God in die beproewende omstandighede te aanbid, sal Hy hulle in twee sekondes verander wanneer Hy verkies.
Lojaliteit aan Jesus Christus is die ding waarby ons vandag "vassteek". Ons sal lojaal wees aan werk, aan diens, aan enigiets, maar moenie ons vra om lojaal aan Jesus Christus te wees nie. Baie Christene is intens ongeduldig met praat oor lojaliteit aan Jesus. Ons Here word nadrukliker deur Christenarbeiders as deur die wêreld onttroon. God word ’n masjien gemaak om mense te seën, en Jesus Christus word ’n Arbeider onder arbeiders gemaak.
Die idee is nie dat ons werk vir God doen nie, maar dat ons so lojaal aan Hom is dat Hy Sy werk deur ons kan doen — "Ek reken op u vir uiterste diens, sonder enige gekla van u kant en geen verklaring van Myne nie." God wil ons gebruik soos Hy Sy eie Seun gebruik het.