Daaglikse oordenking

WORSTELING VOOR GOD

Neem daarom die volle wapenrusting van God op . . . terwyl julle altyd bid . . .

Efesiërs 6:13, 18

U moet worstel teen die dinge wat verhinder dat u by God uitkom, en u worstel in gebed vir ander siele; maar moet nooit sê dat u in gebed met God worstel nie, dit is skriftuurlik onwaar. Indien u wel met God worstel, sal u vir die res van u lewe kreupel wees. Indien u, wanneer God op een of ander manier kom wat u nie wil hê nie, Hom vasgryp soos Jakob gedoen en met Hom worstel, dwing u Hom om u uit lit te sit. Moenie ’n mankloper in God se weë wees nie, maar iemand wat voor God met dinge worstel, en deur Hom meer as ’n oorwinnaar word. Worsteling voor God tel in Sy Koninkryk. Indien u my vra om vir u te bid en ek nie volkome in Christus is nie, kan ek bid maar dit baat niks; maar my gebed seëvier die hele tyd indien ek volkome in Christus is. Gebed is slegs doeltreffend wanneer daar volkomenheid is — "Neem daarom die volle wapenrusting van God op."

Onderskei altyd tussen God se orde en Sy toelatende wil, d.w.s., Sy voorsienige voorneme teenoor ons. God se orde is onveranderlik; Sy toelatende wil is dit waarmee ons voor Hom moet worstel. Dit is ons reaksie op die toelatende wil van God wat ons in staat stel om by Sy orde uit te kom. "Alle dinge werk ten goede mee vir dié wat God liefhet" — vir dié wat getrou bly aan God se orde, aan Sy roeping in Christus Jesus. God se toelatende wil is die middel waardeur Sy seuns en dogters geopenbaar moet word. Ons moet nie soos jellievisse wees en sê nie, "Dit is die Here se wil." Ons moet nie voor God ’n stryd voer nie, nie met God worstel nie, maar voor God met dinge worstel. Pas op dat u nie lui voor God hurk in plaas daarvan om ’n luisterryke stryd te voer sodat u Sy krag kan aangryp nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in