Daaglikse oordenking

DIE SLEUTEL TOT DIE MEESTER SE BEVELE

Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in Sy oes sal uitstuur.

Matteus 9:38

Die sleutel tot die sendingprobleem is in die hand van God, en daardie sleutel is gebed nie werk nie, dit wil sê, nie werk in die algemene hedendaagse betekenis van die woord wat die ontwyking van konsentrasie op God kan beteken nie. Die sleutel tot die sendingprobleem is nie die sleutel van gesonde verstand nie, ook nie die mediese sleutel nie, ook nie die sleutel van beskawing of opvoeding of selfs evangelisering nie. Die sleutel is gebed. "Bid dan die Here van die oes." Natuurlik, is gebed nie prakties nie, dit is absurd; ons moet besef dat gebed uit die gewone gesondeverstandsoogpunt dom is.

Daar is geen nasies in Jesus Christus se uitkyk nie, maar die wêreld. Hoeveel van ons bid sonder aansien van persone, en met aansien van slegs een Persoon, Jesus Christus? Hy besit die oes wat deur nood en oortuiging van sonde voortgebring word, en dit is die oes waarvoor ons moet bid dat arbeiders uitgestoot mag word om dit in te samel. Ons word deur aktiewe werk in beslag geneem terwyl mense oral om ons heen ryp vir die oes is, en ons samel nie een van hulle in nie, maar mors Ons Here se tyd in oorenergieke bedrywighede. Gestel die krisis kom in u vader se lewe, in u broer se lewe, staan u daar as ’n arbeider om die oes vir Jesus Christus in te samel? "O, maar ek het ’n besondere werk om te doen!" Geen Christen het ’n besondere werk om te doen nie. ’n Christen word geroep om Jesus Christus se eiendom te wees, iemand wat nie bo sy Meester is nie, iemand wat nie aan Jesus Christus voorskryf wat hy van voorneme is om te doen nie. Ons Here roep tot geen besondere werk nie: Hy roep tot Homself. "Bid dan die Here van die oes," en Hy sal omstandighede konstrueer en u uitstoot.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in