TOTDAT U GEHEEL EN AL SYNE IS
“Laat julle uithouvermoë ’n voltooide produk wees, sodat julle voltooid en volkome kan wees, sonder ooit ’n gebrek.”
Jakobus 1:4 (MOFFATT)
Baie van ons is oor die algemeen in orde, maar daar is sommige terreine waarop ons slordig is. Dit gaan nie om sonde nie, maar om die oorblyfsels van die vleeslike lewe wat geneig is om ons slordig te maak. Slordigheid is ’n belediging vir die Heilige Gees. Daar behoort niks slordigs te wees nie, hetsy in die wyse waarop ons eet en drink, of in die wyse waarop ons God aanbid.
Nie alleen moet ons verhouding tot God reg wees nie, maar die uiterlike uitdrukking van daardie verhouding moet reg wees. Uiteindelik sal God niks laat ontkom nie, elke besonderheid is onder Sy noulettende ondersoek. Op tallose maniere sal God ons oor en oor na dieselfde punt terugbring. Hy word nooit moeg om ons na die een punt te bring totdat ons die les leer nie, omdat Hy die voltooide produk voortbring. Dit kan ’n saak van impuls wees, en telkens, met die volhardendste geduld, het God ons na die een bepaalde punt teruggebring; of dit kan verstandelike wolvergaring[1] wees, of onafhanklike individualiteit. God probeer die een ding wat nie heeltemal reg is nie op ons indruk.
Ons het hierdie Sessie ’n wonderbare tyd beleef rondom die openbaring van God se Verlossing, ons harte is volkome teenoor Hom; Sy wonderbare werk in ons laat ons weet dat ons oor die algemeen reg met Hom is. "Nou," sê die Gees, deur die heilige Jakobus, "laat julle uithouvermoë ’n voltooide produk wees." Let op die agtelosige stukkies — "O, dit sal vir eers moet deug." Wat dit ook al is, God sal dit volhardend uitwys totdat ons geheel en al Syne is.
[1] Chambers behou hier die konkrete beeld van die Engelse wool-gathering, ’n uitdrukking vir verstrooide of doellose dagdromery. Die letterlike wolmetafoor is in die vertaling herkenbaar gehou.