ALTYD NOU
“Ons . . . smeek julle om die genade van God nie tevergeefs te ontvang nie.”
2 Korintiërs 6:1
Die genade wat u gister gehad het sal nie vir vandag deug nie. Genade is die oorvloeiende guns van God; u kan altyd daarop reken dat dit daar is om uit te put. "In baie geduld, in verdrukkinge, in nood, in benoudhede" — dit is waar die toets vir geduld kom. Laat u die genade van God daar in die steek? Sê u — O, wel, ek sal hierdie keer nie tel nie? Dit is nie 'n kwessie van bid en God vra om u te help nie; dit is om die genade van God nou te neem. Ons maak gebed die voorbereiding vir werk, dit is dit nooit in die Bybel nie. Gebed is die oefening om uit die genade van God te put. Moenie sê — Ek sal dit verduur totdat ek kan wegkom en bid nie. Bid nou; put uit die genade van God in die oomblik van nood. Gebed is die mees praktiese ding, dit is nie die reflekshandeling van toewyding nie. Gebed is die laaste ding waarin ons leer om uit God se genade te put.
"Onder slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid" — openbaar in al hierdie dinge 'n put uit die genade van God wat u vir uself en ander 'n wonder sal maak. Put nou, nie weldra nie. Die een woord in die geestelike woordeskat is Nou. Laat omstandighede u bring waar hulle wil, hou aan om uit die genade van God te put in elke denkbare toestand waarin u mag wees. Een van die grootste bewyse dat u uit die genade van God put is dat u verneder kan word sonder om die geringste spoor van enigiets behalwe Sy genade te openbaar.
"Terwyl ons niks het nie . . ." Moet nooit enigiets terughou nie. Stort die beste wat u het uit, en wees altyd arm. Moet nooit diplomaties en versigtig wees oor die skat wat God gee nie. Dit is triomferende armoede.