DINK SOOS JESUS GELEER HET
“Bid sonder ophou.”
1 Tessalonisense 5:17
Ons dink reg of verkeerd oor gebed na gelang van die begrip wat ons in ons denke van gebed het. As ons aan gebed dink as die asem in ons longe en die bloed uit ons harte, dink ons reg. Die bloed vloei sonder ophou, en die asemhaling gaan sonder ophou voort; ons is nie daarvan bewus nie, maar dit gaan altyd voort. Ons is nie altyd daarvan bewus dat Jesus ons in volmaakte aansluiting met God hou nie, maar as ons Hom gehoorsaam, doen Hy dit altyd. Gebed is nie 'n oefening nie, dit is die lewe. Waak teen enigiets wat skietgebed stop. "Bid sonder ophou," hou die kinderlike gewoonte van skietgebed die hele tyd in u hart tot God.
Jesus het nooit onbeantwoorde gebed genoem nie, Hy het die grenslose sekerheid gehad dat gebed altyd beantwoord word. Het ons deur die Gees die onuitspreeklike sekerheid wat Jesus oor gebed gehad het, of dink ons aan die tye wanneer dit lyk of God gebed nie beantwoord het nie? "Elkeen wat vra ontvang." Ons sê — "Maar . . . , maar . . ." God beantwoord gebed op die beste manier, nie soms nie, maar elke keer, hoewel die onmiddellike openbaring van die antwoord in die gebied waarin ons dit wil hê nie altyd mag volg nie. Verwag ons dat God gebed sal beantwoord?
Die gevaar by ons is dat ons die dinge wat Jesus sê wil afwater en hulle iets wil laat beteken wat met gesonde verstand ooreenstem; as dit slegs gesonde verstand was, was dit nie vir Hom die moeite werd om dit te sê nie. Die dinge wat Jesus oor gebed sê is bonatuurlike openbarings.