Daaglikse oordenking

DIE VREUGDE VAN WANHOOP

En toe ek Hom sien, het ek soos 'n dooie aan Sy voete geval.

Openbaring 1:17

Dit kan wees dat u soos die apostel Johannes Jesus Christus intiem ken, wanneer Hy skielik sonder enige bekende kenmerk verskyn, en die enigste ding wat u kan doen is om soos 'n dooie aan Sy voete te val. Daar is tye wanneer God Homself op geen ander manier as in Sy majesteit kan openbaar nie, en dit is die ontsaglikheid van die visioen wat u tot die vreugde van wanhoop bring; as u ooit opgerig moet word, moet dit deur die hand van God wees.

"Hy het Sy regterhand op my gelê." Te midde van die ontsaglikheid, kom 'n aanraking, en u weet dit is die regterhand van Jesus Christus. Die regterhand nie van beteueling of regstelling of tugtiging nie, maar die regterhand van die Ewige Vader. Wanneer Sy hand ook al op u gelê word, is dit onuitspreeklike vrede en vertroosting, die besef dat "onder u die ewige arms is," vol ondersteuning en vertroosting en sterkte. Wanneer Sy aanraking eenmaal kom, kan hoegenaamd niks u weer in vrees werp nie. Te midde van al Sy opgevaarde heerlikheid kom die Here Jesus om met 'n onbeduidende dissipel te praat, en te sê — "Moenie vrees nie." Sy teerheid is onuitspreeklik soet. Ken ek Hom so?

Let op sommige van die dinge wat wanhoop teweegbring. Daar is wanhoop waarin daar geen vreugde, geen horison, geen hoop op enigiets helderder is nie; maar die vreugde van wanhoop kom wanneer ek weet dat "in my (dit wil sê, in my vlees) geen goeie ding woon nie." Dit verheug my om te weet dat daar dit in my is wat voor God uitgestrek moet neerval wanneer Hy Homself openbaar, en as ek ooit opgerig moet word moet dit deur die hand van God wees. God kan niks vir my doen totdat ek by die grens van die moontlike kom nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in