NOU VERKLAAR DIT DIE SAAK
“Sodat hulle almal een kan wees; soos U, Vader, in My is, en Ek in U, dat hulle ook in Ons een kan wees.”
Johannes 17:21
As u deur 'n eensame weg gaan, lees Johannes 17, dit sal presies verklaar waarom u is waar u is — Jesus het gebid dat u een met die Vader kan wees soos Hy is. Help u God om daardie gebed te beantwoord, of het u 'n ander doel vir u lewe? Sedert u 'n dissipel geword het kan u nie so onafhanklik wees soos u voorheen was nie.
Die doel van God is nie om ons gebede te beantwoord nie, maar deur ons gebede kom ons die denke van God onderskei, en dit word in Johannes 17 geopenbaar. Daar is een gebed wat God moet beantwoord, en dit is die gebed van Jesus — "dat hulle een kan wees, net soos Ons Een is." Is ons so naby aan Jesus Christus soos dit?
God is nie oor ons planne besorg nie; Hy sê nie — Wil u deur hierdie verlies deur die dood gaan; hierdie versteuring? Hy laat hierdie dinge ter wille van Sy eie doel toe. Die dinge waardeur ons gaan maak ons óf soeter, beter, edeler mans en vroue; óf hulle maak ons vitlustiger en meer foutvinderig, meer daarop gesteld om ons eie sin te kry. Die dinge wat gebeur, maak ons óf duiwels óf heiliges; dit hang geheel en al af van die verhouding waarin ons tot God staan. As ons sê — "Laat U wil geskied," ontvang ons die vertroosting van Johannes 17, die vertroosting om te weet dat ons Vader volgens Sy eie wysheid werk. Wanneer ons verstaan waarna God mik sal ons nie bekrompe en sinies raak nie. Jesus het vir ons vir niks minder gebid as volkome eenheid met Homself soos Hy een met die Vader was nie. Sommige van ons is ver daarvan af, en tog sal God ons nie met rus laat totdat ons een met Hom is nie, omdat Jesus gebid het dat ons dit kan wees.