Daaglikse oordenking

GODDELIKE REDENERINGS VAN GELOOF

Maar soek eers die koninkryk van God, en Sy geregtigheid; en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Matteus 6:33

Sodra ons na hierdie woorde van Jesus kyk, vind ons hulle die mees revolusionêre uitspraak waarna mense-ore ooit geluister het. "Soek eers die koninkryk van God." Ons redeneer presies op die teenoorgestelde manier, selfs die geesteliksgesindstes onder ons — "Maar ek moet leef; ek moet soveel geld maak; ek moet geklee word; ek moet gevoed word." Die groot besorgdheid van ons lewens is nie die koninkryk van God nie, maar hoe ons onsself geskik moet maak om te leef. Jesus keer die volgorde om: Kom eers reg tot God in verhouding, handhaaf dit as die groot sorg van u lewe, en moet nooit die besorgdheid van u sorg op die ander dinge plaas nie.

"Wees nie besorg oor julle lewe nie. . . ." Ons Here wys op die volslae onredelikheid vanuit Sy standpunt om so angstig oor die lewensmiddele te wees. Jesus sê nie dat die mens wat oor niks besorg is geseënd is nie — daardie mens is 'n dwaas. Jesus het geleer dat 'n dissipel sy verhouding tot God die oorheersende konsentrasie van sy lewe moet maak, en in vergelyking daarmee sorgvuldig sorgeloos oor elke ander ding moet wees. Jesus sê — "Moenie wat julle sal eet en wat julle sal drink die regerende faktor van julle lewe maak nie, maar wees volkome op God gekonsentreer." Sommige mense is sorgeloos oor wat hulle eet en drink, en hulle ly daaronder; hulle is sorgeloos oor wat hulle dra, en hulle lyk soos hulle geen reg het om te lyk nie; hulle is sorgeloos oor hulle aardse sake, en God hou hulle verantwoordelik. Jesus sê dat die groot sorg van die lewe is om die verhouding tot God eerste, en alles anders tweede te plaas. Dit is een van die strengste dissiplines van die Christelike lewe om die Heilige Gees toe te laat om ons in harmonie met die leer van Jesus in hierdie verse te bring.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in