"UIT DIE WRAK STAAN EK OP"
“Wie sal ons van die liefde van Christus skei?”
Romeine 8:35
God hou 'n mens nie immuun teen moeilikheid nie; Hy sê — "Ek sal by hom wees in moeilikheid." Dit maak nie saak watter daadwerklike moeilikhede in die mees uiterste vorm 'n mens se lewe beetkry nie, nie een van hulle kan hom van sy verhouding tot God skei nie. Ons is "meer as oorwinnaars in al hierdie dinge." Paulus praat nie van denkbeeldige dinge nie, maar van dinge wat desperaat daadwerklik is; en hy sê dat ons superoorwinnaars te midde van hulle is, nie deur ons vindingrykheid, of deur ons moed, of deur enigiets anders as die feit dat nie een van hulle ons verhouding tot God in Jesus Christus raak nie. Reg of verkeerd, ons is waar ons is, presies in die toestand waarin ons is. Ek voel jammer vir die Christen wat nie iets in sy omstandighede het wat hy wens nie daar was nie.
"Sal verdrukking . . . ?" Verdrukking is nooit 'n edele ding nie; maar laat verdrukking wees wat dit wil — uitputtend, kwellend, vermoeiend, dit is nie in staat om ons van die liefde van God te skei nie. Moet nooit sorge of verdrukkings u laat skei van die feit dat God u liefhet nie.
"Sal angs . . . ?" — kan God se liefde standhou wanneer alles sê dat Sy liefde 'n leuen is, en dat daar nie so iets soos geregtigheid is nie?
"Sal hongersnood . . . ?" — kan ons nie net in die liefde van God glo nie maar meer as oorwinnaars wees, selfs terwyl ons uitgehonger word?
Óf Jesus Christus is 'n bedrieër en Paulus is mislei, óf iets buitengewoons gebeur met 'n mens wat aan die liefde van God vashou wanneer die kanse geheel teen God se karakter is. Logika word tot swye gebring in die aangesig van elkeen van hierdie dinge. Slegs een ding kan dit verklaar — die liefde van God in Christus Jesus. "Uit die wrak staan ek op" elke keer.