DIE ARBEIDER SE HEERSENDE HARTSTOG
“Daarom arbei ons dat . . ons vir Hom aanneemlik mag wees.”
2 Korintiërs 5:9
"Daarom arbei ons . . . ." Dit is moeisame werk om die meesterambisie voor te hou. Dit beteken om uself jaar in en jaar uit aan die hoë ideaal te hou, nie ambisieus om siele te wen of kerke te stig of herlewings te hê nie, maar slegs ambisieus om "vir Hom aanneemlik te wees." Dit is nie ’n gebrek aan geestelike ervaring wat tot mislukking lei nie, maar ’n gebrek daaraan om te arbei om die ideaal reg te hou. Neem minstens eenmaal per week voor God voorraad op en kyk of u u lewe op die standaard hou wat Hy verlang. Paulus is soos ’n musikant wat nie op die goedkeuring van die gehoor ag gee as hy die blik van goedkeuring van sy Meester kan opvang nie.
Enige ambisie wat in die geringste mate van hierdie sentrale ambisie afwyk om "deur God goedgekeur" te wees kan eindig daarin dat ons verworpenes is. Leer onderskei waarheen die ambisie lei, en u sal sien waarom dit so noodsaaklik is om te leef terwyl u die Here Jesus Christus in die gesig kyk. Paulus sê — "Sodat my liggaam my nie ’n ander lyn laat volg nie, waak ek voortdurend sodat ek dit tot onderwerping kan bring en daaronder kan hou." (1 Kor. 9:27.)
Ek moet leer om alles met die meesterambisie in verband te bring, en dit sonder enige onderbreking te handhaaf. My waarde vir God in die openbaar is wat ek privaat is. Is my meesterambisie om Hom te behaag en vir Hom aanneemlik te wees, of is dit iets minder, ongeag hoe edel?