Daaglikse oordenking

DIE DISSIPLINE VAN ONTSTELTENIS

En terwyl hulle gevolg het, was hulle bevrees.

Markus 10:32

Aan die begin was ons seker dat ons alles van Jesus Christus weet, dit was ’n vreugde om alles te verkoop en onsself uit te slinger in ’n stoutmoedigheid van liefde; maar nou is ons nie heeltemal so seker nie. Jesus is verder voor en Hy lyk vreemd: "Jesus het voor hulle uitgegaan en hulle was verbaas."

Daar is ’n aspek van Jesus wat die hart van ’n dissipel tot in die kern verkoel en die hele geestelike lewe na asem laat snak. Hierdie vreemde Wese met Sy aangesig "soos ’n vuursteen gerig" en Sy skrydende vasbeslotenheid, slaan my met vrees. Hy is nie langer Raadgewer en Kameraad nie, Hy word in beslag geneem deur ’n standpunt waarvan ek niks weet nie, en ek is verbaas oor Hom. Aanvanklik was ek vol vertroue dat ek Hom verstaan, maar nou is ek nie so seker nie. Ek begin besef dat daar ’n afstand tussen Jesus Christus en my is; ek kan nie langer gemeensaam met Hom wees nie. Hy is voor my en Hy draai nooit om nie; ek het geen idee waarheen Hy gaan nie, en die doel het vreemd ver geword.

Jesus Christus moes elke sonde en elke smart deurgrond wat die mens kon ervaar, en dit is wat Hom vreemd laat lyk. Wanneer ons Hom in hierdie aspek sien ken ons Hom nie, herken ons nie een kenmerk van Sy lewe nie, en weet ons nie hoe om Hom te begin volg nie. Hy is verder voor, ’n Leier wat baie vreemd is, en ons het geen kameraadskap met Hom nie.

Die dissipline van ontsteltenis is noodsaaklik in die lewe van dissipelskap. Die gevaar is om na ’n klein vuurtjie van ons eie terug te gaan en geesdrif daarby aan te steek (vgl. Jesaja 1:10-11). Wanneer die duisternis van ontsteltenis kom, volhard totdat dit verby is, want daaruit sal daardie navolging van Jesus kom wat ’n onuitspreeklike vreugde is.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in