DEUR GOD AANGEGRYP
“Sodat ek dit mag aangryp waarvoor ek ook aangegryp is.”
Filippense 3:12
Moet nooit kies om 'n arbeider te wees nie; maar wanneer God eenmaal Sy roeping op u geplaas het, wee u as u na regs of links draai. Ons is nie hier om vir God te werk omdat ons gekies het om dit te doen nie, maar omdat God ons aangegryp het. Daar is nooit enige gedagte van — "O, wel, ek is nie hiervoor geskik nie." Wat u moet verkondig word deur God bepaal, nie deur u eie natuurlike neigings nie. Hou u siel standvastig tot God in verhouding, en onthou dat u nie geroep is om slegs getuienis te lewer nie, maar om die evangelie te verkondig. Elke Christen moet getuig, maar wanneer dit by die roeping kom om te preek, moet daar die smartlike greep van God se hand op u wees, u lewe is vir daardie een ding in die greep van God. Hoeveel van ons word so vasgehou?
Moet nooit die Woord van God afwater nie, verkondig dit in sy onverdunde strengheid; daar moet onwrikbare lojaliteit aan die Woord van God wees; maar wanneer u by persoonlike handeling met u medemense kom, onthou wie u is — nie 'n besondere wese wat in die hemel saamgestel is nie, maar 'n sondaar wat deur genade gered is.
"Ek reken nie dat ek self dit aangegryp het nie: maar een ding doen ek . . ."